Thursday 15 October 2015

Herkoms van Joost en Burgert van Dijk

(Sien ook hierdie nuwer plasing wat spekuleer oor 'n Duitse herkoms.)

Bietjie meer as 'n jaar terug het ek begin met my missie om die Europese geboorteplek van die Suid-Afrikaanse Van Dyk-familie te bevestig. Ek het my soektog gebaseer op die aannames in J.H. van Dyk se Geslagsregister van die Broers Joost en Burgert van Dyk (1975): dat Joost en Burgert, saam met hul pa, Jan Pietersz., en hul suster Anna, in 1691 vanaf Izenberge (toe Ysenberg), Wes-Vlaandere, België, na die Kaap gereis het.

Hoe het J.H. van Dyk besluit op Izenberge? Hy haal die volgende drie bronne aan: die hersiende Geslagsregisters van ou Kaapse Families (1966, pp183-186), J. Hoge se Bydraes tot die Genealogie van Ou Afrikaanse Families (1958, pp39-40) en H.T. Colenbrander se De Afkomst der Boeren (pp 28, 34 en 92) (laasgenoemde maak egter geen melding van Izenberge nie).

Die enigste van hierdie bronne wat self verwysing maak na 'n oorspronklike dokument, is Bydraes tot die Genealogie van Ou Afrikaanse Families. J. Hoge skryf: 

Die stamvaders van twee families van Dyk was Joost Pietersz van Dyk en Burgert Pietersz van Dyk. Hulle was broers, geb. te Ysenberg in Vlaandere. (C.6, p.364)

Hierdie verwysingsdokument is waarskynlik 'n "Resolusie van die Politieke Raad van die Kaap die Goeie Hoop". Die dokumente word gekenmerk met 'n C as verwysingsletter, gevolg deur 'n syfer. Die resolusies van die betrokke tydperk is getranskribeer en beskikbaar op die webwerf van TANAP, 'n projek gestig deur die Nederlandse Nationaal Archief en die Universiteit van Leiden. Ek het daar geprobeer om die aangehaalde dokument, C6, p364, op te spoor, sonder enige geluk. Sedert 1958, toe Hoge se boek gepubliseer is, is sommige van die dokumente in die reeks hernommer. Ek het kontak opgeneem met die Kaapse Argiewe in die hoop om hierdie dokument tóg op te spoor (ek wag nog op 'n antwoord). Ek het wel 'n ander dokument in die resolusies ontdek wat na Joost en Burgert se herkoms verwys. Of dit dieselfde een is as waarna Hoge verwys, weet ek nie. Ek bespreek die dokument later in die artikel.

Indien daar nie dokumente is waarin uitdruklik verwys word na 'n persoon se plek van herkoms nie, gebruik 'n mens die persoon se toponiem. Toponieme is plekname, wat ook dikwels gebruik is as van. Dink maar aan van Vuuren, van Rensburg, van den Berg, ens. In die geval van Joost en Burgert word daar twee verskillende toponieme gebruik: van Dijk en, in Joost se geval, variante van van IJsberg.

Die pleknaam, hetsy as toponiem of verwysing in 'n dokument, is egter nie noodwendig die plek waar die persoon gebore en/of gedoop is nie. Moontlik het hy daar groot geword, al is hy nie daar gebore nie, of moontlik is dit slegs die plek waar hy gewoon het vóór hy na die Kaap gereis het. Hoe het ook al sy, dit is 'n beginpunt en, wanneer mens nie enige ander leidrade het nie, is dit dan ook die enigste beginpunt.

Toe ek begin het met my soektog, het ek slegs die Geslagsregister van die broers van Dyk gehad, wat aandring op Izenberge, Wes-Vlaandere as herkoms, dus het ek begin soek na die doopregisters van hierdie Belgiese dorpie. Met moeite en baie geluk, het ek dit opgespoor op die webwerf van die Belgiese Ryksargief.  Aan die hand van die beskrywing in die Van Dyk-Geslagsregister - Joost en Burgert as jong seuns in 1691, met Anna 'n klein dogtertjie van 11 - het ek geskat dat Joost en Burgert ongeveer 1675 gebore is. Moontlik 1675 en 1677/1678 (Anna se doopdatum word as 1680 aangegee). Hul vader, die vermeende Jan Pietersz., sou dan sowat 25 jaar ouer wees, gebore in ongeveer 1653. Ek het besluit om, vir die sekerheid, die jare 1631-1681 deur te gaan: miskien is hulle gebore uit 'n tweede huwelik, of was hulle die laaste van 'n groep van 10 kinders.
 
Soos ek al voorheen verduidelik het, is dit nie 'n maklike taak om die inskrywings daar te lees nie. Die twee pastore met wie ek so baie ure sou deurbring, Menere Flamour en Reijphins, se handskrif het dikwels veel te wense oorgelaat (so ook soms hul Latyn). Woorde is uitgelaat of afgekort en soms het die pastoor ook maar gesukkel om 'n naam wat hom onbekend voorgekom het, neer te skryf.

Gou het ek geleer dat die handskrif en Latynse woordeskat nie my enigste hindernis sou wees nie, maar selfs die name is verlatyns! Dit beteken dat Joost nie geskryf is as Joost nie, maar as Judocus. Maar dan het Latyns ook naamvalle, wat beteken dat Judocus weer Judocum geword het. Burgert (ook Burchard gespel in die tyd), kon geskryf word as Boissart, Bolle, Bollin, Bossaert, Bossin, Boussart of Bussin. (Vir redes wat ek in 'n volgende artikel sal beskryf, het ek onlangs besef dit sal nie baat om verder te soek na dooprekords vir Anna óf hul vermeende pa, Jan Pietersz. nie.)

Selfs al het ek 'n doopinskrywing vir 'n Joost of 'n Burgert gevind - hoe sou ek seker kon wees dat dit dieselfde persoon is? Sommige name was baie gewild en 'n patroniem soos "Pietersz" uiters algemeen. Maar ons Van Dyk-navorsers kan baie bly wees dat ons nie één nie, maar twee verwante stamvaders het. Met ander woorde, as ons 'n doopinskrywing van 'n Joost kan kry, plus 'n doopinskrywing van 'n Burgert, met dieselfde ouers, dan is ons al 'n stappie verder.

Oorspronklik het ek elke inskrywing woord-vir-woord getranskribeer en vertaal. Dit het ure (en maande) geduur, maar ek het daarby gebaat om die nodige Latyn te leer en gemaklik te raak met die handskrif en skryfwyses van die plaaslike pastore. Namate die tyd verbygegaan het sonder enige sukses, het ek begin om slegs die bladsy- en inskrywingnommer, doopnaam en datum te noteer. Na meer as 'n jaar se werk, kan ek egter met volle vertroue verklaar dat daar géén Burgert (of Boissart ens.) in Izenberge gedoop is in die gegewe tydperk nie (ook niemand met die van van Dyk nie). Daar is wél 'n Judocus in 1663 gebore, nog een in 1664, twee in 1666 en nog een in 1671. Wat van die Josephius van 1664, sou hy ook 'n moontlike "Joos" kon wees? Slegs een Judocus se pa se naam het hoegenaamd met 'n P begin: Petrus Bastinck. Alhoewel geen van hierdie inskrywings die van van Dyk gedra het nie, is dit natuurlik moontlik, selfs waarskynlik, dat die "van Dyk"-deel eers in Suid-Afrika in gebruik geneem is. As onderstaande wél ons Joost was, sou ek verwag het dat hy en Burgert die van Bastinck sou voortgebruik het in Suid-Afrika.


8ste Januarie 1671.
Ek die ondertekende, het gedoop Joost, seun van Petrus Bastinck en Joanna Terman, eggenotes. Gebore die 7de Januarie.  Die doopouers was Joost Calliaus en Jacoba, vrou van Richard de Ruijtere uit Isenb.  J. Reijphins, plaaslike pastoor. (Parochieregisters - doopakten 1634-1682. Izenberge, parochie Sint-Mildreda.)

Gesien die bestaande "Bastinck"-van en die feit dat hierdie ouers ook ander kinders daar gedoop het, maar geen Burgert nie, het my ook laat besluit dat hierdie nie die doopinskrywing van Joost is nie.

Nader aan die einde van my soektog het ek egter selfs begin wonder oor die Izenberge-oorsprong. Ek het daarom besluit om te gaan kyk na die kronologiese gebruik van toponieme, patronieme en plekname verkry uit verskeie oorspronklike dokumente. Die resultaat was verassend:



Burgert Peters - 1686 VOC-skeepssoldyboek
Borchard Pietersz - 1691 C. 21, pp. 17-23.
Borgert Pietersz - 1691 monsterrol
Borgert Pietersz - 1694 VOC-kontrak
Burchert Pietersz  - 1697 MOOC 8/1.31
Borgert Pietersz - 1700 VOC-kontrak
Burgert Pieterse van Dijk - 1701 trourekord
Burgert Pietersz van Dijk - 1701 VOC-kontrak
Burgert Pietersz  - 1702 monsterrol
Borger Pieterse van Dyk - 1702 doopgetuie
Burgert Pietersz - 1703 VOC-kontrak
Burgert Pieterz van Dyk - 1704 dooprekord
Burghert Pieterse - 1706 dooprekord
Burger Pieterse van Dijk - 1709 dooprekord
Burgert Pietersz. van Dijk - 1711 boedelinventaris
Burgert Pietersz van Dijk - 1711 VOC-kontrak
Burgert Pietersze van Dijk - 1712 boedelinventaris
Burgert Pietersz van Dijk - 1712 monsterrol
Burgert Pierss van Dijk - 1713 monsterrol
Joost Pietersz: - 1686 VOC-rekord
Joost Pietersz - 1691 C. 21, pp. 17-23.
Joost Pietersz - 1691 monsterrol
Joost Pietersz - 1693 VOC-kontrak
Joost Pieters - 1694 VOC-kontrak
Joost Petersen - 1695 VOC-kontrak
Joost Pieterse van Isbergh - 1695 monsterrol
Joost Pieterz van Ysenberg - 1697 dooprekord
Joost Pietersz: van Eijsenbergh - 1697 VOC-kontrak
Pieter Joost van Dyck - 1699 dooprekord
Joost Pietersz van IJsberg -  1699 VOC-kontrak
Joost Pietersz van Ijsenbergh - 1700 VOC-kontrak
Joost Pieterz van Dyk - 1701 doopgetuie
Joost Pietersz van Dijk - 1702 monsterrol
Joost Pieterz van Dyk - 1705 dooprekord Johannes
Joost Pietersz van Dijk - 1712 monsterrol
Joost Pieterse van Dijk - 1713 monsterrol
Joost Pietersz. van Dijk - 1714 dooprekord
Joost Pietersz van Dijk - 1716 dooprekord
Joost Pietersz van Dijk - 1718 dooprekord

Daar is ook na hulle in ander dokumente verwys, byvoorbeeld boedelinventarisse en vendusierolle, maar dit sou te lank neem om elke liewe inskrywing hier te lys. Ek het egter nog nie 'n ander inskrywing teëgekom wat hierdie patroon teësit nie.

Uit bogenoemde is dit duidelik dat Joost en Burgert die van van Dijk eers in die jare 1699-1701 begin gebruik het, voor die tyd was hulle slegs bekend onder hulle patroniem "Pietersz" en Joost, in die jare 1695-1700, as Joost Pietersz van Ijsenbergh.

As ons die toponieme ondermekaar sit, lyk dit so:
Isbergh (1695 monsterrol)
Ysenberg (1697 dooprekord)
Eijsenberg (1697 VOC-kontrak)
IJsberg (1699 VOC-kontrak)
IJsenberg (1700 VOC-kontrak)

Ek het egter drie ander dokumente ontdek waarin hulle herkoms ook genoem word. Die broers se inskrywings in die V.O.C. se skeepssoldyboeke is iets waarna ek letterlik jare lank na gesoek het. Ek het begin wonder of dit is omdat hulle moontlik geval het onder die handjievol V.O.C.-skeepsoldyboeke wat in die laaste eeue verlore gegaan het. Om een of ander rede het ek toe een aand besluit om 'n wyer net te gooi en die 1691-datum van J.H. van Dyk te ignoreer.

Aitsa.

Hier is die gegevens van Joost en Burgert soos dit verskyn op die webwerf van die Nederlandse Nationaal Archief:

Gegevens van Burgert Peters uit Isberg
Datum indiensttreding:    24-05-1686   
Functie bij indiensttreding:    Soldaat   
Uitgevaren met het schip:    Huis te Zilverstein   
Maandbrief:    Nee   
Schuldbrief:    Ja
Datum uit dienst:    28-12-1690
Reden uit dienst:    Vrijburger
Waar uit dienst:    Kaap de Goede Hoop

Opmerkingen:    1720 overleden       

Gegevens van Joost Pietersz: uit Isberg
Datum indiensttreding:    24-05-1686  
Functie bij indiensttreding:    Soldaat  
Uitgevaren met het schip:    Huis te Zilverstein  
Maandbrief:    Nee
Schuldbrief:    Ja  
Datum uit dienst:    28-12-1690
Reden uit dienst:    Vrijburger
Waar uit dienst:    Kaap de Goede Hoop

Opmerkingen:    1718 overleden      
     
Asof ek nie reeds 100% seker was dat hierdie inskrywings op mý Joost en Burgert betrekking gehad het nie, is die rekords selfs opgedateer om hul sterfdatums in te sluit.  Beide Joost en Burgert kom, volgens hierdie inskrywings, uit "Isberg" (geen land of provinsie genoem nie). En hulle het nie as jong seuns in 1691 na die Kaap gereis nie, maar as soldate in 1686! Uit 'n genealogiese oogpunt, is dit jammer dat hulle geen maandbriewe gehad het nie - 'n maandbrief was in besit van 'n ouer, eggenoot of kind, waarmee tot drie maande van die betrokke V.O.C.-werker se betaling aan die besitter van die maandbrief uitbetaal is. Nie Joost óf Burgert het dus iemand agtergelaat vir wie hulle finansiëel verantwoordelik gevoel het nie.

Met die wete dat die broers dus al reeds baie vroeër in die Kaap was (en ook elk ten minste sowat 10 jaar ouer as aanvanklik geskat), het ek ál die V.O.C.-dokumente in die TANAP-argiewe deurgegaan. Daar vind ek toe die Resolusie van die Politieke Raad, C. 21, pp. 17-23. (1691), waarin hulle deur die V.O.C. as houtkappers aangestel word (en nie boere, soos J.H. van Dyk aangeneem het nie). In hierdie dokument word daar genoem dat hulle van Isenberg is ("Joost Pietersz en Borchard Pietersz van Isenberg") - weer sonder land of provinsie. Dus kan ons bostaande lys opdateer:

Isberg (1686 skeepsboek)
Isberg (1686 skeepsboek)
Isenberg (1691 resolusie)
Isbergh (1695 monsterrol)
Ysenberg (1697 dooprekord)
Eijsenberg (1697 VOC-kontrak)
IJsberg (1699 VOC-kontrak)
IJsenberg (1700 VOC-kontrak)

Toe ek m.b.v. die bogenoemde inskrywings leer dat die broers van Texel, Noord-Holland, af gevaar het, het dit my weer laat begin wonder oor die Belgiese Izenberge, as Joost en Burgert se geboorteplek. Texel is immers 277 km vanaf Izenberge (soos die kraai vlieg), en daar was baie ander hawens tussen-in waarvandaan die V.O.C. ook gevaar het. Dit, gepaard met die feit dat Burgert nie 'n naam is wat in die omgewing van Izenberge in die 1660's voorgekom het nie, het my laat kyk na ander moontlike plekke van oorsprong.

Die volgende dorpies is dus plekke met soortgelyke name, waaraan ek meer aandag wil bestee:

Ysbrechtum - Friesland, Nederland

Ysbrechtum is opmerklik gesien sy ligging - uiters naby aan Texel - asook die feit dat Burgert en veral Joost algemene name in Friesland was in die tydperk. Ook is daar hier geen tekort aan dyke nie (alhoewel ons nie met sekerheid kan sê dat hul plek van oorsprong hul uiteindelike van geïnspireer het nie). Helaas is die doopboeke van Ysbrechtum eers vanaf die begin van die 1700s beskikbaar.

Isselburg (Ysselberge), Duitsland

Isselburg is ook opmerklik vanweë sy ligging - in noord-wes Duitsland aan die Nederlandse grens. Daar was ontsaglik baie Duitsers in diens van die V.O.C. Die doopboeke van Isselburg is op mikro-film beskikbaar, maar daarvoor sal ek die argiewe in Duitsland moet besoek, aangesien dit nog nie aanlyn beskikbaar is nie.

Isbergues (Isberg), Nord-Pas-de-Calais, Frankryk

Hierdie dorpie se naam is vir my net so opvallend as die van Izenberge in Wes-Vlaandere. Isbergues het in dié 1600s as Isberg tot Nederland behoort, maar is tans in Frankryk. Pogings om die doopregisters op te spoor (indien hulle nog bestaan) is gaande.

Isenburg, Nordrhein-Westfalen, Duitsland en
Isenburg, Rheinland-Pfalz, Duitsland

Ek het nog nie tyd gehad om in diepte na hierdie twee Duitse dorpies te kyk nie. Ek vermoed dat enige doopregisters, indien hulle bestaan, nog nie aanlyn is nie.

Skandinawië

(Met "Skandinawië" bedoel ek hier nie slegs Noorweë, Denemarke en Sweden nie, maar ook Finland.) Daar is talle Skandinawiese stamvaders: Cornelissen, Griesel, Maartens, Heyberg, Hougaard, Londt, Pansegrouw, Brand, Grove, Sandberg, Knoesen, Oelofse, Andersen, Appelgyrn, Blomerus, Everts, Toerien, Trichardt en Erlank - om maar 'n paar te noem.

'n Moontlike Skandinawiese oorsprong is noemenswaardig, dink ek, gesien 1) die voorkoms van die van "Isberg/Isenberg" in hierdie gebied in die 1600s, 2) die feit dat hierdie lande ook patronieme gebruik, soos Joost en Burgert aan die begin uitsluitlik gedoen het en 3) dat die name Joost (soms as Just) en Burgert (soms as Birgir/Borger/Berger), ook in hierdie lande voorkom. Jammer genoeg is ek nie die moedertale van hierdie lande magtig nie, dus kan ek nie dadelik op soek gaan daar na soortgelyk genaamde dorpies nie en sal ek nie weet waar om te begin om te soek vir doopregisters nie.

Elders

Moontlik is Joost en Burgert tóg van Izenberge in Wes-Vlaandere, maar hulle kon net so goed uit een van die bogenoemde dorpies gekom het. Ek het ook gewonder of die dorpie Isberg/Ysenberg miskien glad nie meer bestaan nie. In Bert Stulp se vyf-delige reeks boeke "Verdwenen dorpen in Nederland" kom in elk geval geen dorpie met 'n soortgelyke naam voor nie. Maar dit beteken nie dat dit miskien 'n verdwene dorp uit 'n ander land is nie.

Maar ek sal bly soek na hierdie naald in 'n genealogiese hooimied.

No comments:

Post a Comment