Tuesday 14 November 2017

Herkoms van die Broers van Dyk 2

Ek het al baie gespekuleer oor die herkoms van die broers Joost en Burgert van Dyk (sien hier), maar onlangs het André van Dyk die volgende uitgewys:

"Geleë in die munisipaliteit Selfkant, in die verre weste van Duitsland teen die Nederlandse grens is die twee klein dorpies genaamd ‘Isenbruch’ en ‘Dieck’. Kon hulle moontlik tussen die twee plekke groot geword het of op albei? En dit dalk was hoekom hulle soms ‘Van Ysenberg’ en soms ‘Van Dyk’ is. Uit ‘n Nederlandse oor is dit eenvoudig om te sien hoe van Isenbruch ‘van Ysenberg’ [geword het, of] ‘Dieck’ ‘ dyk’ word."

Die ligging (ongeveer) van Isenbruch (links) en Dieck (regs) in Duitsland, aan die grens met Nederland.

Ek het byna van my stoel afgeval. Nog nooit hierdie gehuggies teëgekom in my eie soektogte nie. Aanvanklik was ek skepties (soos ek maar oor alles is), maar dit wil lyk asof "Joost" en "Burchart" (en variante) baie algemene name was in hierdie gebied in die betrokke tydperk. My hoofrede om Wes-Vlaandere destyds as plek van herkoms af te skryf, was nie slegs omdat geen van die seuns in die doopboek van Izenberge voorkom nie, maar ook omdat hul voorname slegs met enkele uitsonderings (Joost) of selfs glad nie (Burgert) daar voorgekom het nie.

"Dieck" is dan ook 'n ou Duitse woord vir "dyk". Die dorpe was deel van die gemeente St. Lucia. Ongelukkig begin die kerkboeke vir die gemeente eers in 1696 (die kerk is reeds in 1510 gebou) - en is ook nie aanlyn beskikbaar nie.

Isenbruch behoort tot die gemeente van St. Gertrud Havert. Die kerkboeke van hierdie gemeente begin nog later - eers in 1734, alhoewel die kerk (of oorspronklike kapel) reeds uit die 16de eeu stam.

Hoe nou gemaak? Wel, sover ek kan sien, is daar geen maklike opsies nie (alle voorstelle welkom). Mens kan die Dieck-boeke deurgaan om te kyk of daar 'n familie is waarin die seuns sou pas (as Joost en Burgert familiename was, sou hulle steeds in die agtergeblewe familie voortgebruik geword wees). Dit is wel 'n monumentale taak, maar nie 'n onmoontlike een nie: as mens sowat dertig tot vyftig jaar van 'n doop (en, as ons gelukkig is, trou- en sterfboek) transkribeer, kry mens 'n baie goeie beeld van die verskillende families van 'n plek.

Isenbruch s'n begin te laat om van nut te wees, dink ek.

Mens kan ook kyk vir ander dorpies wat tot dieselfde gemeente behoort. Daar is 'n skraal kans dat hulle doopboeke wél vroeër begin en dat die seuns in een van hierdie dorpies gedoop is en later na Dieck/Isenbruch getrek het.

Mens kan ook soek vir ander bronne - letterlik enige boeke geskryf in die tydperk oor die plekke, waaruit name van destydse inwoners geneem kan word. Weereens, iets wat net so links van "onbegonne taak" lê. Maar ek sal nog daarby uitkom (tensy 'n ander vrywilliger sy hand opsteek).

Ek is nog nie gereed om Skandinawië as plek van herkoms af te skryf nie, veral gesien die DNS-ooreenkoms met 'n Skandinawiër. Maar Middel-Noord-Europa (waar Dieck/Isenbruch) geleë is, is dan ook nie só ver dat dit onmoontlik is nie - die gemeenskaplike voorvader se familie het 300 jaar tyd gehad om te migreer.

Enige iemand wat my wil borg sodat ek voltyds aandag hieraan kan bestee?





No comments:

Post a Comment